Wednesday, February 08, 2006

CHEETAH NEWS 2 days to go


Alle berigte en foto in hierdie thread vanaf www.volksblad.com



Cheetahs reg vir stryd voorlangs
Feb 07 2006 10:22:33:410PM - (SA)
Hendrik Cronjé

DIE verwagte reën en nat speeloppervlak van Vodacompark maak ’n voorspelerstryd tussen die Vodacom-Cheetahs en die Bulle byna onafwendbaar.

Die rugbyspan van die Cheetahs is reg vir dié uitdaging wanneer dié spanne mekaar Vrydag om 19:10 in Bloemfontein in ’n Super 14-wedstryd aandurf.

’n Video-opname van die Curriebeker-eindstryd kan as groot aanmoediging vir die Cheetahs dien, aangesien die Vrystaat-agttal met groot eer as wenner uit dié stryd getree het.

Sedert dié eindstryd is die Cheetah-agttal ook deur vurige spelers soos Frans Viljoen (losvoorspeler), Gareth Krause (flank, albei van die Wildeklawer-Griekwas) en Ockie van Zyl (veelsydige voorspeler vn die Griffons) versterk.

’n Voorspelerstryd is verder op die kaarte omdat die Bulle wil wraak neem – en wraakwedstryde word gebruiklik voorlangs en deur stelskopwerk bepaal.

“Baie mense sê ons is dom om die Bulle voorlangs aan te vat, maar dit is nie die geval nie. Ons staan vir geen agttal terug nie,” sê Juan Smith, kaptein van die hartland-span.

“Vir ons gaan dit nie oor grootte nie, maar oor hoe groot elke speler se hart is,” sê die Cheetah-kaptein. Kabamba Floors (flank) se spel is ’n sprekende voorbeeld van wat Smith van sy spanmaats verwag.

Floors is klein, maar groot van hart en mannemoed.

Sukses in die vaste fasette sal volgens Smith bykans 96% bepaal op watter wyse sy span die voordeellyn in die Super 14 kan oorsteek.

“Ons spel in die vaste fasette was goed in die losmakers. Ons werk vandeesweek aan sekere dinge en ek glo Vrydag sal daar geen haakplekke wees nie.

“Ons het in die losmakers ’n klomp nuwe dinge probeer en ek is tevrede met ons vaste fasette,” volgens Smith.

Die Cheetahs sal Vrydag swaar steun op die ervaring van spelers soos Smith, Barend Pieterse (slot) en Os du Randt (loskopstut).

Pieterse-hulle sal die voorbeeld moet stel vir jonges soos Wian du Preez, Jannie du Plessis (albei stutte) en Tiaan Liebenberg (haker) om te volg.

Du Randt moet veral in Ollie le Roux (stut) se afwesigheid die vonk verskaf.

Du Randt was verwoestend teen die skrummasjien en dit voorspel moeilikheid vir die Bulle.

Trevor Leota, haker van Samoa, se Europese ervaring kan ook tot voordeel van die Cheetahs wees.

Leota is heelwat fisker sedert hy hom verlede seisoen in die Rosestad gevestig het. Hy is bekend om sy plettervatte, terwyl hy in die oefenwedstryde gewys het hy is ’n voortreflike baldraer.

Leota en Liebenberg oefen hul lynstaan-ingooie onder die vlerke Naka Drotské, voormalige Bok-haker en nou spanbestuurder van die Cheetahs.

Smith sê sy span gee nie om dat hy in die eerste wedstryd teen die Bulle speel nie, “want dit maak nie saak nie en ons moet teen almal speel”.

***
Beroepswedders sê ‘Bulle SA se beste’
Feb 07 2006 10:22:31:787PM - (SA)
Hendrik Cronjé

BEROEPSWEDDERS plaas hope druk op die Bulle in die Super 14-rugbyreeks.

Asof die druk nie groot genoeg op die Noord-Gautengers is nie nadat hulle hul ondersteuners in die Curriebeker-eindstryd teleurgestel het, het beroepswedders (sabookmaker.com) die Bulle met 18/10 die algehele gunstelinge gemaak om die beste uit die Suid-Afrikaanse spanne te presteer.

Die Vodacom-Cheetahs, wat Vrydag om 19:10 in Bloemfontein teen die Bulle in dié reeks uitdraf, word slegs ’n kans van 7/1 gegun om tot die halfeindstryd van die Super 14 deur te dring.

Beroepswedders gun selfs die Stormers met 4/1 ’n beter kans as die Cheetahs. Die Haaie se kanse is 7/1, terwyl die Katte met 15/1 deur die beroepswedders as die Suid-Afrikaanse span beskou word wat gerelegeer kan word.

Die beroepswedders se weddenskappe sal Vrydag as groot aanmoediging vir die Cheetahs dien, aangesien die Vrystaat die Curriebeker-kampioen en die Wildeklawer-Griekwas die houer van die Vodacombeker is.

Die hartlandspan sal beroepswedders verkeerd wil bewys. Mnr. Rassie Erasmus, Cheetah-afrigter, sal egter verkies dat die beroepswedders die Bulle as die gunstelinge beskou.

Erasmus het sy span reeds vroeër gewaarsku dat die Vrystaat se Curriebeker-wittebrood verby is en ’n nuwe kompetisie – die Super 14 – aangebreek het. Sy span het Vrydag teen die Bulle ’n tuisveldvoordeel en ’n verwagte wit-en-oranje-golf van Cheetah-ondersteuners kan sake vir die Noord-Gautengers bemoeilik.

Mnr. Naka Drotské, spanbestuurder van die Cheetahs, sê die hartlandspan wil ook van Vrydag af probeer om Vodacompark weer daarvoor bekend te maak dat dit die begraafplaas vir besoekende spanne word.

“Ek het nog nooit van spelers gehoor wat dit geniet om in Bloemfontein te speel nie,” sê hy. Kenners meen intussen die Bulle word versterk met die fisieke Francois van Schouwenburg ná die besering van Victor Matfield. Van Schouwenburg is ’n beter keuse op ’n nat veld.

Mnr. Heyneke Meyer, afrigter van die Bulle, sal ook besef die druk op sy span neem toe nadat die Noord-Gautengers verlede jaar tot die halfeindstryd van die Super 12 deurgedring het.

Die Bulle het in 2004 onder die ses voorste spanne in die Super 12 klaargemaak.

Erasmus se span is in die bevoorregte posisie dat hy ’n groentjie in die Super 14 is. Die Cheetahs het ook wenmomentum aan hul kant wat die druk op die hartlandspan sal verminder.

Met ’n uitgeslape Erasmus lyk dit asof die Cheetahs vinnig geleer het om die regte knoppies in belangrike wedstryde te druk om seges te behaal.

***

Cheetahs vra groot skares vir Super 14
Feb 07 2006 01:39:57:270AM - (SA)
Hendrik Cronjé

’n DERDE rugbybeker en ’n tweede kriekettrofee dié seisoen vir die hartlandstreek – die Super 14-beker en Standard Bank Pro20-trofee – sal net deur puik ondersteuning vir die Vodacom-Cheetahs en Gestetner-Eagles beskore wees.

Suid-Afrika se twee belangrikste rugbybekers, die Curriebeker en die Vodacombeker, staan reeds in die hartland en nou begin die Cheetahs met hul aanslag op die Super 14-titel.

Die Curriebeker-glorie van die Vrystaat en Vodacombeker-sukses van die Wildeklawer-Griekwas het dié ondersteuning aangewakker.

In krieket het die Eagles, die streekspan van die hartland van Suid-Afrika, verlede jaar in ’n stadium met al drie nasionale titels gespog en vanjaar het die Eagles reeds die Standard Bank-beker in eendagkrieket verower. Sondag pak die Eagles die Leeus in die halfeindronde van die Pro20-krieketreeks op Goodyearpark in Bloemfontein nadat hulle pas met die Dolfyne en Kaapse Kobras op hul tuisvelde afgereken het.

Die Cheetahs het die laaste tyd boonop alles in hul vermoë gedoen om na hul ondersteuners uit te reik. Dié Super 14-rugbyspan vra nou dat die ondersteuners dieselfde doen deur in hul duisende na hul wedstryde op te ruk.

Mnr. Naka Drotské, spanbestuurder van die Cheetahs, en sy span het in die sege van 52-11 oor Treviso ’n lekker voorsmakie gekry van die ondersteuning wat verwag kan word.

Die Griffons met mnr. Eugene van Wyk, uitvoerende hoofamptenaar, vooraan, het die voorbeeld gestel met die groot aantal ondersteuners wat vir die Treviso-wedstryd opgedaag het.

Die Griffons, die derde vennoot in die hartland-streekspan, word deur Ockie van Zyl (slot/flank) in die Cheetah-span verteenwoordig en dié goeie ondersteuning vanuit die Noord-Vrystaat vir Juan Smith, flank en kaptein, se span kan daaraan toegeskryf word.

“Goeie ondersteuning in tuiswedstryde is altyd ’n groot faktor vir besoekers. Kyk wat het die Bulle die afgelope drie jaar vermag met hul ondersteuners wat almal in blou geklee is,” het Drotské gesê.

Drotské-hulle hoop Vodacompark sal deur die Cheetah- en Griekwa-sukses net so ’n groot intimiderende faktor soos Loftus Versfeld in Pretoria word.

Die Cheetahs hoop daarom om Vrydag om 19:10 op Vodacompark in Bloemfontein ’n golf van ondersteuners (in wit geklee) te sien wanneer hulle vir ’n Super 14-wedstryd teen die Bulle op die veld draf.

“Ons het die laaste tyd probeer om soveel moontlik na ons ondersteuners uit te reik. Ons wil graag ’n golf van ondersteuning sien wanneer ons teen die Bulle speel. Goeie ondersteuning sal belangrik in die Super 14 wees,” het Drotské gesê.

Die Vrystaat, Griekwas en die Griffons sal ook van vandeesweek probeer om die Vodacombeker in die hartland te hou. Dié spanne sal wil wys die hartland het goeie diepte terwyl die voorste spelers in die Super 14 meeding.

Die Vodacombeker-spelers sal aan mnr. Rassie Erasmus, afrigter van die Cheetahs, wil wys dat hulle goed genoeg is om in die Super 14 te speel.
***

Feesmaal van sport in Rosestad voorgesit
Feb 07 2006 11:29:44:650PM - (SA)
Danél Blaauw

’n WARE sportfeesmaal word die naweek in die hartland van Suid-Afrika opgedis en duisende ondersteuners uit die noorde stroom na die Rosestad toe.

Op die spyskaart: die Vodacom-Cheetahs wat hopelik Bul-bredie gaan opdis, terwyl die Gestetner-Eagles waarskynlik die Leeus gaan afransel.

Die Cheetahs pak die Bulle Vrydag op Vodacompark in die eerste ronde van die strawwe Super 14-beker, terwyl die Eagles Sondag teen die Leeus in die halfeindronde van die Pro20-krieketreeks te staan kom.

Duisende rugby- en krieketondersteuners stroom die naweek na die Rosestad om dié twee spanne in aksie te sien.

Die kragmeting tussen die Cheetahs en Bulle lok ongekende belangstelling nadat die Vrystaat-Cheetahs die Blou Bulle verlede jaar in die Curriebeker-eindstryd geklop het. Vrydag se wedstryd word as ’n “wraakwedstryd” tussen die twee spanne beskou met die Curriebeker nog vars in albei se geheue.

Krieketondersteuners sal Sondag na Goodyearpark opruk om ’n sterbelaaide Eagle-span, die verdedigende kampioene in die reeks, te sien.

Die Proteas, Boeta Dippenaar, Johan van der Watt en Jacques Rudolph, het hulle weer by die span aangesluit ná hul oorsese toer saam met die nasionale span.

’n Ondersteunersgolf in wit geklee, wat bankvas agter die streekspan staan, word Vrydagaand op Vodacompark verwag.

Kaartjies vir die Cheetahs se eerste Super 14-wedstryd raak nou so skaars soos hoendertande.

Ondersteuners wat nog ’n sitplek vir dié geskiedkundige kragmeting wil verseker, moet gou spring.

Kaartjies vlieg en teen gister is sowat 32 000 kaartjies verkoop, sê mnr. Piet de Necker, kommersiële bestuurder van die Vrystaatse Rugbyunie. ’n Stampvol stadion word die eerste keer in twee jaar verwag. De Necker sê die stadion is met die toets tussen die Springbokke en Ierland laas uitverkoop.

Duisende ondersteuners, van Kroonstad, Kimberley en Pretoria, sal Vrydag vroeg in treine hier aankom. Busdienste uit alle uithoeke van die land ry ook honderde ondersteuners vir die sportnaweek aan.

Mnr. Naka Drotské, spanbestuurder, het ’n beroep op ondersteuners gedoen om, geklee in wit, in hul duisende na die wedstryd op te ruk.

Volksblad druk sowat 20 000 plakkate om sy steun aan die Cheetahs te gee. Dié plakkate word Vrydagaand by die stadion uitgedeel. ’n Volkleurfoto van die Cheetah-groep verskyn die oggend in die koerant.

Die Eagles sal na alle verwagting Sondagmiddag ook in ’n volgepakte stadion speel.

Mnr. Johan van Heerden, uitvoerende hoof van die Vrystaatse Krieketunie (VKU), sê kaartjieverkope vorder flink. “Mense sal moet spring om teleurstelling te voorkom. Veral met ’n Pro20-wedstyd. Die wedstryde is kort en ’n mens wil nie dan nog in ’n ry staan nie.”

Van Heerden sê sowat 2 500 kaartjies is teen gisteroggend verkoop.

Mnr. Corrie van Zyl, afrigter, sê die span se selfvertroue is uitstekend. “Ons sien uit daarna om weer in ’n halfeind te speel. Om voor ons tuisskare te speel is ook ’n groot aansporing.”

Saklui glimlag waarskynlik ook breed oor dié twee groot sportgebeurtenisse wat ’n reuse- ekonomiese inspuiting vir Bloemfonteinse ondernemings is.

Gastehuise en hotelle was gister vol bespreek vir Vrydagaand, terwyl restaurante en inkopiesentrums ook ’n toeloop van mense kan verwag.

Rugbyondersteuners in die stad lek reeds hul lippe af vir ’n Bul-maaltyd wat verslind moet word.

’n Restauranteienaar en geharde Vrystaat-ondersteuner in die stad het verlede week spesiaal ’n blouwildebees platgetrek.

Mnr. Riaan Niemand sê dié week is enigiets van Blou Bul-burgers tot Blou Bul-biefstuk (met ’n blou kaassous) en Blou Bul-wors op Reid Street Café se spyskaart. Alles in die aanloop tot die groot stryd teen die Bulle.

Niemand sê hy twyfel nie dat die Cheetahs gaan wen nie. “Ons het dan klaar die helfte van die Bulle opgeëet,” lag hy.


STOMPIE FOURIE, voormalige Vrystaat skrumskakel en kaptein, smul aan 'n Blou Bul Burger in die Reid Street Café in die Rosestad. Foto: Charl Devenish

Comments:
En Vleis het gedink Ollie het hom geirreteer

Blou kaas sous oor 'n Blou Bul Burger- hehhehe
 
OO

I've got a kak difficult question for you.

What was that radio link for the Cheetahs/Force warm-up game?
 
Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]





<< Home

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

Subscribe to Posts [Atom]