Friday, February 24, 2006

White meen Meyer is reg

taken from Beeld
article by Morris Gilbert

Heyneke Meyer, afrigter van die Bulle, sal reeds in môre se Super14-rugbywedstryd op Loftus Versfeld teen die Waratahs die soet vrugte van sy besluit pluk om met Wynand Olivier en JP Nel as senterpaar te volhard.
Die Springbokke se afrigter, Jake White, meen Meyer het die verdedigingsblapse in die middelveld op presies die regte wyse aangepak.
"Die enigste manier hoe iemand soos Wynand met sy min ervaring van rugby op dié vlak uit sy foute gaan leer, is dat hy die kans moet kry om dit in die volgende wedstryd reg te stel.
"Hy (Olivier) het nie mislukte duikslae uitgevoer omdat hy nie 'n toegewyde verdediger is nie, maar eerder omdat hy nog nie die nodige ervaring het nie. Dit sal my nie verbaas nie as die Bulle se middelveldverdediging solied teen die Waratahs is," het White gister uit Kaapstad gesê.
Meyer het juis eergister gesê dat Olivier se verdedigingspeil nie die gevolg van halfhartigheid was nie, maar eerder onsekerheid omdat die verdedigingspatroon nie behoorlik in werking gestel is nie.
Ook die Bulle se kaptein, Fourie du Preez, het Meyer se besluit verwelkom om ná die nederlaag teen die Brumbies nie die snoeiskêr in te lê nie.
"Dit wys hy het die volste vertroue in ons as spelers en dat hy bereid is om almal 'n tweede kans te bied. Dié soort benadering het 'n positiewe uitwerking op die span en spelers," meen Du Preez.
Hy sê hy het 'n goeie gevoel oor die stryd met die Waratahs, omdat spelers speel soos hulle oefen.
"Ná gister (Woensdag) se skof, is ek oortuig ons kan die gety teen die Waratahs laat draai. Eintlik het ons het nie 'n keuse nie, want ons kan nie 'n tweede agtereenvolgende nederlaag bekostig nie," sê die Bulle se Springbok-skrumskakel.
Volgens Du Preez is daar te veel klem op sy span se swak verdediging teen die Brumbies gelê, want die Bulls kon gewen het, al het hulle nie goed gespeel nie.
"Dit was ook nie dat ons duikslae die een ná die ander misluk het nie. Daar was blapse, maar ook baie kere dat ons raak geduik het. 'n Mens moet eerder só na die saak kyk."
Die Bulle se kaptein stem saam dat "die klein jakkalsies" nie weer tussen hulle en 'n oorwinning mag staan nie.
"Ons het vandeesweek hard gewerk om nie teen die Waratahs dieselfde foute te begaan nie. Ons moet meer in hul gebied speel deur besit deur fases te neem en hul verdedigingslinie op dié wyse onder druk te plaas.
"Ons moet voorts ons spel beter afwissel en onsself geen ander keuse laat as om 80 minute lank voluit te speel nie."
Du Preez sê die Bulls staal hul vir 'n kwaai fisieke aanslag van die Waratahs se gedugte agttal en verwag ook dat die besoekers die Bulle met taktiese spel in trurat wil laat beweeg.

Comments:
Kom ons hoop die week se oefeninge het die verdediging reggeruk, anders sal dieselfde padjie more geloop word as verlede week.
Hulle word darem geboost met die terugkeer van Andries Human op vaskop en Wannenburg in Rossouw se plek. Dit is `n beduidende goeie skuif aangesien meer spoed aan die voorspelers gegee word en goeie impak in die 2de helfte deur Rossouw op te stuur.
 
Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]





<< Home

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

Subscribe to Posts [Atom]