Tuesday, January 31, 2006


These articles from www.volksblad.com




Cheetahs vestig hoop nie net op losskakels
Jan 31 2006 02:14:59:240AM - (SA)
Hendrik Cronjé

DIE rugbyspan van die Vodacom-Cheetahs sal nie maklik in die strik trap deur al sy hoop slegs op die skopskoene van Willem de Waal en Meyer Bosman te vestig nie.

De Waal en Bosman (albei losskakels) het in die oefenwedstryde teen die Western Force en Treviso uitstekend na die pale gekorrel.

Bosman was die enigste wat een keer teen Treviso skeef gekorrel het, terwyl die res deur hom en De Waal in die kol was.

De Waal was boonop die vorige twee jare die voorste puntemaker in die Curriebeker-reeks, terwyl Bosman in Europa selfs die Bokke se stelskopwerk by Percy Montgomery (heelagter) oorgeneem het.

Voordat Bosman verlede jaar sy kans as plaasvervanger op Curriebeker-vlak vir die Vrystaat gekry het, was hy die voorste puntemaker in SA Rugby se o.21-reeks.

Die Cheetahs is in die verdere bevoorregte posisie dat Gaffie du Toit (heelagter) voorheen die Bokke se eerstekeuse-stelskopper was. Du Toit het teen Treviso met ’n doelskop geslaag.

Barry Goodes, wat ’n aanspraakmaker vir ’n plek op binnesenter is, het vir sy klubspan, Shimlas, op losskakel uitgedraf en die stelskopwerk behartig.

Selfs Falie Oelschig (skrumskakel) het ’n geleerde skopskoen. Oelschig het teen Treviso sy agttal met sy lang kantlynskoppe op die voorvoet gehou en hy het al op Curriebeker-vlak suksesvol die stelskopwerk as kaptein van die SWD-Arende behartig.

Oelschig kan in noodgevalle die stelskopwerk oorneem, hoewel hy na verwagting op die bank sal sit, met Michael Claassens wat skerp vertoon.

“Ons moet nie net op ons stelskopwerk vertrou nie,” sê mnr. Rassie Erasmus, afrigter van die Cheetahs.

“Franco (Smith, agterlynafrigter) oefen kliphard aan dié spelers se skopwerk en ek is tevrede met hul korrelwerk,” sê die Cheetah-breier.

Dié losskakels se skopwerk gee die Cheetahs nietemin baie vertroue voordat die hartlandspan op 10 Februarie teen die Bulle in ’n Super 14-wedstryd speel. Hoewel die Cheetahs vanweë die belangrikheid van bonuspunte beklemtoon het hulle wil drieë in die Super 14 behaal, sal stelskopwerk uiteindelik die koring van die kaf skei.

Teen Treviso het die hartlandspan met sewe drieë onderstreep hy kan meer bonuspunte as wat verwag word in die Super 14 inoes.

Smith gee nie net aandag aan Bosman-hulle se skopwerk nie, maar Bevin Fortuin (heelagter) en al die Cheetah-senters moet weekliks vir skop-oefeninge by dié agterlynafrigter aanmeld.

Die Cheetahs weet stelskopwerk sal veral teen die Bulle belangrik wees, omdat die Noord-Gautengers goeie losskakels in Derick Hougaard en Morné Steyn het.

Mnr. Vlokkie Cilliers is die Bulle se skopafrigter.

Oranje Orakel lees elke oggend die Volksblad. teken sommer vandag in en kry elke oggend jou eie koerant op jou voorstoep





Comments: Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]





<< Home

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

Subscribe to Posts [Atom]